LED vs Fluorescent


So paar jaar terug het baie mense op hol gegaan met die LED-gier.  Groot maatskappye soos Osram, het LED-ligte bemark met groot beloftes.  ‘n Tragiese episode in die geskiedenis van “groen energie”.

LED bulb

Daardie LED’s was pateties en al die beloftes was leuens.  Mense het soos spoke gelyk onder die flou LED-lig.  Boonop het die eerste generasie LED’s binne ‘n jaar 80% lig verloor.  Van flou tot vrek flou in 12 maande.  Om sout in die wonde te vryf,  het hul ‘n plaas se prys gekos en die geld wat jy in energie gespaar het was minder as die prys van die gloeilamp.

Vir die van jul wat blindelings die bemarkers se beloftes glo, het ek twee vrae:  Hoekom het jou 2016 Duitse motor van R500 000 nog steeds halogeen hoofligte?  Hoekom gebruik die stadsraad nog nie LED-straatligte?

Die antwoord is eenvoudig.  LED-ligte het nie die slaankrag van 100 jaar oue lig-tegnologie nie.  Die Departement van Energie in Amerika het in 2009 LED alternatiewe vir die gewone fluorescent buislig getoets.  Die resultaat was skokkend!  LED was baie slegter.  http://apps1.eere.energy.gov/buildings/publications/pdfs/ssl/troffer_benchmark_01-09.pdf

MAAR die wereld het nie stil gestaan en ‘n paar jaar later staan ons op die drumpel van ‘n nuwe era.  Dit gaan nie lank wees nie dan gaan elke kar en straatlig LED gedryf wees. In 2013 het die Depertament van Energie in Amerika weer LED gloeilampe getoets en die resultate was baie beter.  http://energy.gov/eere/ssl/led-linear-lamps-and-troffer-lighting. Die gety het begin draai en LED begin stof in die kompetisie se oë skop.  Nie drasties nie, maar dit is die begin van die einde van fluorescent ligte en halogeen.

Op die oomblik is die LED-gloeilampe wat te koop is op die meeste winkels se rakke, effens meer effektief per watt as kompakte fluorescent gloeilampe.  ‘n 7-watt kompakte fluorescent gee soveel lig as wat ‘n 5-watt LED lig uitset. https://www.energystar.gov/productfinder/product/certified-light-bulbs/results

As ek nou by Builders Warehouse sou instap sal ‘n 7-watt fluorescent gloeilamp my R30 kos en ‘n 5-watt LED R60.  Die LED gaan my R1 se krag spaar oor 250 ure se gebruik.  As ek die lig vir 4 ure ‘n dag gebruik dan sal ek eers na 5 jaar my geld terug kry!

Ek het al ‘n paar goedkoop LED-ligte probeer en ‘n hele paar het al geblaas voor die 5 jaar.  Ek dink ek gaan nog eers so bietjie wag totdat LED-ligte dieselfde prys kos as kompakte fluorescent ligte.

Lewer kommentaar