Watter soort Solar Geyser is die beste?


Daar is net ‘n paar goed wat mens moet weet om die sprong na goedkoop warm water te maak.  Ignoreer al die magdom inligting en berekeninge wat jy lees op die internet.  Hier volg ‘n paar eenvoudige wenke wat jou keuse maklik gaan maak.

Hoë druk of Lae druk?geyser1

Lae druk geysers staan altyd bo-op jou dak en lyk nie baie mooi nie.  Daar is gewoonlik’n ding wat lyk soos ‘n emmer bo-op die geyser waar die water soos ‘n toiletbak ingetap word.  As jy ‘n ongeduldige persoon is moet jy maar wegbly want dit vat dae lank om jou bad vol water te kry.  As jy  hou van ‘n stort  wat die seep uit jou hare spuit soos ‘n “jet cleaner” dan is ‘n lae druk geyser ook nie vir jou bedoel nie.  Hierdie tipe geysers is die goedkoopste en ‘n kleinerige eenheid gaan jou so R8000 kos met installasie.  Meeste van hierdie soort is van lae kwaliteit en word vir RDP-huise in hul massas gemaak.

As dit kom by hoë druk solarstelsels is daar twee tipes.  Die een het ‘n tank bo-op die dak net soos die lae druk geysers.  Hul is egter twee maal duurder as ‘n lae druk geyser.   ‘n Kleinerige eenheid gaan jou R16 000 uit die sak jaag. geyser2

Die ander tipe hoë druk solarstelsels gebruik jou bestaande geyser en daar is geen tank op jou dak nie.  Water word gesirkuleer met ‘n klein pompie van die sonpaneel op jou dak na jou bestaande geyser binne jou dak. Hierdie tipe geyser lyk die mooiste maar werk bietjie slegter as die ander tipes.  Hul is bietjie goedkoper as die tipe met die tank bo-op die dak en gaan jou ongeveer R12 000 kos vir ‘n kleinerige eenheid.

Watter tipe panele?

                        geyser3   geyser4

Daar is twee tipes en albei werk amper ewe goed.  Die een tipe het vakuum glaspype wat die hitte binne-in vasvang.  Hoe meer pype die eenheid het, hoe meer hitte gaan hy vang.  Die ander tipe is ‘n swart plat plaat wat glas bo-oor het.  Hoe groter, hoe beter.

Hoe groot?

Die verkoopsmense beloof altyd die wêreld se besparing met berekeninge so lank soos die rye by SARS.  Die gemiddelde gesin van vier sal ‘n eenheid van 300 liter benodig en dan gaan daar nog steeds bewolkte dae en tye wees waar die krag gaan inskop.  Hul kos in die omgewing van R23 000.  Jou kragbesparing gaan ongeveer R600 ‘n maand wees en die eenheid sal vier jaar vat om homself af te betaal.  Mens kan altyd afskop met ‘n kleiner eenheid van 150 liter indien die finansies nie goed lyk nie.  Jou besparings gaan helfte minder wees, maar ten minste het jy helfte minder betaal vir jou groen eenheid.

Watter handelsmerk?

Meeste solar geysers werk amper ewe goed.  Hul word deur die SABS gedwing om nie te warm te maak nie.  Hul is bang dat as jy sou weg gaan vir ‘n lang naweek die geyser gaan blaas soos ‘n stoomtrein.  Die belangrikste ding om na te kyk is die kwaliteit en waarborg.  Die SABS toets hul nogal goed en kyk na die kwaliteit.  Moet nie eens dink om een te koop wat nie die SABS merk op het nie, tensy jy ‘n expert is nie.   Baie verskaffers gee ‘n vyf jaar waarborg en dit is wys om nie vir ‘n korter waarborg te val nie.

Lewer kommentaar