Spaar mens krag deur mens se geyser af te sit elke dag?


Natuurlik gaan ‘n mens spaar. Die vraag is net hoeveel.

‘n Baie warm (70 °C) gestelde Geyser op die koue Vrystaat vlaktes in die winter naby vriespunt verloor permanent 120 Watt se hitte. Dit is dieselfde as twee ou 60W ligte. Nie regtig baie nie. As jy hom afskakel vat dit ongeveer 7 ure om af te koel tot 60 °C. Hoe kouer die geyser hoe minder hitte verloor dit. Teen 60 °C verloor die geyser nie meer 120 Watt hitte nie maar net 110 Watt. Jy spaar dus ‘n ongelooflike 10 Watt! Met al daai krag wat jy spaar kan jy twee IPhones verniet laai!

Voordat jy opgewonde raak, kom ons werk uit hoeveel rand en sent jy gaan spaar.

As jy elke aand en elke dag 10 ure jou geyser afsit gaan jy ‘n ongelooflike R12 per maand spaar 🙂 Maar nou gaan baie mense met my stry en sê hulle spaar baie meer. Hulle is reg want meeste mens gebruik water terwyl die geyser af is en dit is daar waar mense baie spaar.

Dit laat my dink aan my oorlede skoonma in Kroonstad wat baie trots was op haar slim geyser toestel wat haar geld gespaar het, maar ek kan nou nog onthou hoe ek gebibber het in die bad op ‘n koue wintersdag. Mens kan selfs jou geyser heeltemal af los en 100% krag spaar, maar hel, ‘n warm bad bly maar lekker.

Lewer kommentaar